‘n Opwindende nuwe brandewyn is hierdie week bekend gestel en is die skepping van ‘n samewerkingsprojek tussen die bekende Calitzdorp-plaas Boplaas en die befaamde Springbok rugbyspeler, Frans Malherbe. Slegs ‘n beperkte hoeveelheid bottels Boplaas–Frans Malherbe 10 Jaar Brandewyn is beskikbaar.
Die projek snoer twee formidabele kragte saam. Boplaas se geskiedenis met brandewyn strek terug na 1880, toe sy produk na Londen uitgevoer is. Sedertdien word die plaas gereeld as kampioen uitgewys, en is vanjaar weer by die gesogte Michelangelo International Wine and Spirit Awards uitgesonder vir die Brandewyn- en Grand Prix-trofees vir sy 20 YO Pot Still Reserve.
Frans Malherbe is bekend as een van Suid-Afrika se mees talentvolle atlete, wat meer as 70 keer as Springbokrugbyspeler vir die land uitgedraf het. Hy was twee keer deel van die nasionale span, toe die Wêreldbeker gewen is – in 2019 en in 2023. Hy het ook ‘n deurslaggewende bydrae as vaskopstut in die B&I Lions toer van 2021 gelewer.
Hierdie kampioen-kwaliteite en uitmuntendheid is die grondslag van die nuwe brandewyn.
Daniel en Frans gesels al lank om saam ‘n premium-brandewyn uit te bring. Hulle wou ‘n drankie skep wat wat goed genoeg is om skoon; op ys; met soda óf as mengeldrankie geniet kon word.
Elke aspek van die brandewyn is noukeurig deurdink. Dit sluit in die tipe verpakking wat gebruik is – ‘n tradisionele Cognac bottel uit Frankryk wat maklik in die hand pas om ‘n drankie te gooi en mooi lyk op die tafel.
Die brandewyn self is ’n fyn-saamgestelde versnit waarvan die potketelkomponent uit 10-, 15- en 20-jaar oue potketelbrandewyne bestaan.
Die etiket wys die verhaal van Daniel en Frans wat saam ‘n brandewyn in Boplaas se stokery op Calitzdorp geniet. Die kleurskema van die etiket wat gebruik is, is groen en goud – ‘n skakel met albei se groot liefde: Springbok rugby.
Die brandewyn lewer klassieke geure van ryp perske, Calitzdorp appelkoos en vanielje, met ’n gladde, afgeronde mondgevoel, wat lank op die tong talm, nadat die laaste slukkie geniet is.
Vir die skeppers verteenwoordig die Boplaas–Frans Malherbe 10 Jaar Brandewyn ‘n uiters mooi brandewyn wat gedrink kan word soos jy dit graag geniet; saam met vriende en familie, om ‘n kampvuur, van die Boland tot in Bosveld.
Die brandewyn is slegs by die Boplaas proelokale op Calitzdorp en die Tuinroete, en aanlyn by boplaas.co.za verkrygbaar. Dit kos R500/bottel.
Kry vele voordele ten opsigte van nuwe vrystellings wanneer jy as lid van Boplaas se wyn en whisky-klub aansluit. Dit kan op die webtuiste gedoen word.
Vir meer inligting, stuur epos aan admin@boplaas.co.za, bel 044 213 3326 of besoek boplaas.co.za. Boplaas is ook op Facebook en Instagram.