30 Under 30: Waagmoed en vasbyt

Tuesday, 13 August, 2024
WineLand, Johannes Richter
Onder nuwe Sweedse eienaarskap, staan Uitkyk op die punt van ’n gedaanteverwisseling. Assistent-wynmaker Johan Calitz is net die man om dié proses enduit te sien.

Johan Calitz (29) was gereed om ná skool wingerd- en wynkunde te gaan studeer, maar het van plan verander omdat hy onder die wanindruk verkeer het dat hy nie die regte vakke het om vir ’n BSc keuring te kry nie. Hy kon gelukkig ná ’n jaar se ompad deur ingenieurswese weer op koers kom. Ná sy studies het hy ’n reeks vakleerlingskappe onderneem, onder andere by Thelema Mountain Vineyards, Stellenbosch Universiteit se Welgevallen-kelder en Franschhoek Kelder, gevolg deur ’n seisoen by Château Montelana in die Napavallei, Kalifornië. Sy eerste pos as wynmaker was by Mischa Estate in Wellington, waar hy vir meer as drie jaar gewerk het.

Elke pars het sy merk op hom gemaak. “Thelema se wynmakers, Rudi Scholtz en Duncan Clark, is twee baie cool ouens. Ek het ook baie op Welgevallen geleer waar Riaan Wassing die kelderspasie aan kleinskaalse wynmakers uitverhuur. Ek het deur Riaan van die professors leer ken en baie goeie blootstelling gekry.”

Mischa bied ook wynmaakdienste aan en Johan het daar die kuns van goeie versnitte aangeleer terwyl Andrew Barns hom aan die besigheidskant van wyn blootgestel het. “Dit was die eerste pos waar ek ook bestuursverantwoordelikhede gehad het,” sê hy. Hy is veral trots op sy eerste vyfstertoekenning in Platter’s vir die Mischa 2022 Grenache. “Ek het ’n paar keer naby gekom met vier en 4.5 sterre, so hierdie uitslag was vir my ’n big deal.”

Toekennings bied natuurlik waardevolle erkenning vir enige jong wynmaker, maar dis nie waarmee Johan sy naam wil maak nie. “Dis lekker om te weet dat mense jou wyn waardeer, maar ek stel nie soveel in openbare erkenning belang nie,” sê hy. “Ek wil eerder hê dat ander wynmakers my respekteer vir my bydraes.”

Hy sien daarna uit om ’n pad saam met Uitkyk te stap. Onder die Franse bestuurshoof, Philippe Lespy, sal die landgoed ’n diepgaande vernuwing ondergaan, wat nuwe wingerde, ’n restaurant, verblyf en ’n nuwe kelder sal insluit. “Min wynmakers het die geleentheid om deel van so ’n proses te wees,” sê hy.

Massiewe buitelandse beleggings soos dié in Suid-Afrika se wynbedryf gee hom hoop vir die bedryf se toekoms. Die bekommernis is altyd dat die plaaslike erfenis en geskiedenis verlore kan gaan, maar dit kom ook in gedrang wanneer plase nie winsgewend is nie. “Familieplase trek al hoe swaarder en buitelandse beleggings gaan toenemend belangrik word,” sê hy. “Hierdie projek kan wys wat moontlik is met die regte hulpbronne en hoe vinnig dit kan gebeur.”

Johan deel nie sommer raad uit nie, maar stel voor mense moet hul instinkte vertrou. “Wynmaak is nie glitz and glamour nie. Dit bly ’n boerdery en ’n produksieomgewing vol sweet, harde werk en laat aande. Maar dis terselfdertyd ’n baie lonende omgewing aangesien jy die resultate van die werk sien. Die bonus is dat dit in van die mooiste dele in die wêreld is.”

Hy het iets van daardie waagmoed en vasbyt geleer tydens sy eerste reis na die buiteland vir ’n pars in Kalifornië. “Daardie vroeë oggende buite op die tenke terwyl ek die son oor Kalifornië se berge sien opkom, sal my altyd bybly.”

Blitsvrae

  • Gunsteling wyn? The Mint Cabernet Sauvignon van Thelema.
  • Binge-waardige TV-reeks? Clarkson’s Farm op Amazon Prime.
  • Gunsteling goedvoelliedjie? "Kickstart My Heart" deur Mötley Crüe.
  • Iets wat min mense van jou weet? Ek hou baie van jag en surf.
  • Gunsteling vakansieplek? Ek sal graag Mexiko wil besoek. Ek het baie Mexikane leer ken toe ek in Amerika was en dis ’n baie veelsydige bestemming.

Volg Johan op Instagram by @johancalitz1 of skakel met hom op LinkedIn.

subscribe to news
Johan Calitz, assistent-wynmaker by Uitkyk
Johan Calitz, assistent-wynmaker by Uitkyk

more news