30 Under 30: Die natuur se beste student

Thursday, 8 August, 2024
WineLand, Johannes Richter
Sy skooljare op Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch beteken Loïc du Toit was nog altyd omring deur die wynlande.

Landbou en wyntoerisme is ’n integrale deel van Stellenbosch en die dorp se geskiedenis. Aangehelp deur sy ouers se waardering vir goeie wyn, het Loïc du Toit (26) dus min verweer teen die wynbedryf se betowering gehad. “Dit het beslis ’n invloed op my belangstelling en liefde vir wyn en wingerd gehad,” sê hy. “Elsenburg was dus ’n natuurlike keuse ná skool en ek het in 2019 my graad in BAgric: Keldertegnologie behaal.”

’n Toer na Frankryk in 2019 was ’n onvergeetlike ervaring wat hom in aanraking gebring het met die ongelooflike wyne, kultuur en mense van Boergondië, Bordeaux en die Rhônevallei.

Sy studies het uitgeloop op ’n seisoen as parshulp by Kanonkop in 2020, gevolg deur twee jaar as assistent-wynmaker en plaasbestuurder by Restless River Wines in die Hemel-en-Aarde-vallei en sy eindelike aanstelling as wynmaker by De Wetshof. “Ek het my jong groep wynmakersvriende by Restless River verlaat vir ’n nuwe familie in Robertson.”

Dit was ’n mylpaal in sy loopbaan en ’n persoonlike prestasie waarop hy steeds trots is. Dubbelgoud by Veritas vir die 2023 Limestone Hill staan uit as nog ’n hoogtepunt en die begin van ’n loopbaan waar hy graag ’n bydrae tot die groei en waardering van goeie wyn onder die publiek wil maak.

Met sy ensiklopediese kennis oor Chardonnay is Danie de Wet, eienaar van De Wetshof, een van die beste menyors waarvoor Loïc kon hoop. “Danie het my geleer hoe om die druif, sap en wyn van hierdie ongelooflike kultivar te verstaan,” sê hy. Hy is ewe dankbaar vir sy tyd saam met Abrie Beeslaar by Kanonkop wat sy kennis oor die maak van rooiwyn verbreed het, en Lorraine Geldenhuys, sy dosent op Elsenburg. “Haar kennis en entoesiasme vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf het my toegerus met waardevolle insigte en vaardighede wat nodig is om wynmaak met kundigheid en oorgawe aan te pak.”

Hy wil die voorregte wat hy geniet graag in die volgende geslag terugploeg. “Ek wil graag ’n verskil maak in die lewe van die mense met wie ek elke dag werk en ook ’n rolmodel en raadgewer vir jong wynmakers wees – soos die mense wat ek nodig gehad het om te kom tot waar ek vandag is,” sê hy. “Erkenning uit die wynbedryf wys jou jy is op die regte pad.”

Loïc sien elke oesjaar as ’n skoon doek waarop hy iets moois kan skep vir ander om te geniet. “Dis ’n voorreg om elke dag met ’n natuurlike produk te kan werk wat met klein insette van liefde en kennis in iets besonders omskep kan word.”

Hy waardeer die geleentheid om met besondere mense te kan werk – mense wat die wêreld ’n beter plek maak. “Ek glo die wynbedryf staan saam, ongeag al die uitdagings. Dis ’n bedryf waarvan ek graag deel wil wees en wil help om ’n verskil te maak. Werkskepping is so belangrik. Dit gee mense hoop en maak drome waar.”

Dis vir Loïc as wynmaker noodsaaklik om bewus te wees van die groeiseisoen en die wingerd se gesondheid. Die korrelasie tussen wingerd en wyn is ’n daaglikse herinnering aan hoe belangrik dit is om vir die omgewing te sorg. “Dit bepaal hoe die druiwe gaan lyk as dit by die kelder aankom en hoe om dit te hanteer om die beste wyn moontlik te maak,” sê hy. “Ons het gesonde druiwe nodig om ’n goeie wyn te maak. Die natuur, klimaat en grond is ’n belangrike deel van wynmaak. Ons is afhanklik daarvan en ons moet almal mooi daarna kyk.”

Die natuur leer ’n mens ook hoe belangrik geduld is en om na elke detail op te let. “Die verskil tussen ’n goeie wyn en die wêreld se beste wyn sit in die fyner besonderhede van die wingerdstok tot in die bottel,” sê hy. “Dit is ’n absolute passie-gedrewe beroep en nie altyd so romanties soos op die foto’s nie. Jy moet hard kan werk, en omgee vir mense en die omgewing.”

Blitsvrae

  • Gunsteling wyn? Domaine A. et P. De Villaine Bouzeron 2014 en Nuits-S-Georges Domaine Jean Grivot 2001.
  • Binge-waardige TV-reeks? Suits
    Gunsteling goedvoelliedjie? "Waitin’ On A Sunny Day" deur Bruce Springsteen.
  • Iets wat min mense van jou weet? Ek is die ongekroonde 30 Seconds-kampioen :-)
  • Gunsteling vakansieplek? Enige plek naby aan die natuur aangesien ek dit baie geniet om vis te vang en te duik asook foto’s te neem van diere in hul natuurlike omgewing.

Volg Loïc se reis via Instagram by @loicdutoitwines.

subscribe to news
Loïc du Toit, winemaker at De Wetshof
Loïc du Toit, winemaker at De Wetshof

more news