30 Under 30: G'n 9 tot 5-meisie

Wednesday, 7 August, 2024
WineLand, Wanda Augustyn
Naweke op ’n kleinhoewe in Tesselaarsdal in die Hemel-en-Aarde-vallei was vir Mika Engelbrecht die katalisator vir haar wynloopbaan.

By 'n Universiteit Stellenbosch se opedag dwaal Mika Engelbrecht (27) rond in die fakulteit agri-wetenskappe. “Wat van wynkunde?” vra haar ma. Wat haar soos ’n regte millenniër die internet laat invaar. Die kreatiwiteit, afhanklikheid van die natuur, mengelmoes take sonder sieldodende kantoorwerk en talle geleenthede was die deurslag.

Sy gradueer met ’n BScAgric in wingerd- en wynkunde in 2019 en voltooi terselfdertyd ’n internskap by Neethlingshof. In 2020 pars sy by Rupert & Rothschild, werk in die kelder by Benguela Cove en word aangestel as assistent-wynmaker by Neethlingshof. In 2021 pars sy by Domaine Wachau in Oostenryk en meer onlangs by Mas Belles Eaux in Frankryk. Sy proe ook op die SAWIS-paneel sedert 2021 en maak verlede jaar haar debuut op die Jongwynskou se wynproepaneel. In September verlede jaar word sy bevorder tot wynmaker vir Iwayini Wines by Neethlingshof.

Hier maak Mika spogwyne en het as troste lid van die wynmaakspan vier 4.5 ster-inskrywings in die bekende Platter’s Wine Guide op haar kerfstok. Sy word ook verlede jaar aangewys as nasionale wenner vir Gewürztraminer by die SA Terroir Wyntoekennings, ontvang 95 punte vir haar Owl Post Pinotage by die Internasionale Wyn-en-Spiritus-kompetisie en spog met drie dubbele goue medaljes vir Malbec, Sauvignon Blanc en Merlot by die Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritualieë-toekennings. Verlede jaar was vol eerstes vir haar, en het hope toewyding en aandag aan detail geverg. Sy produseer ’n veel groter volume Cap Classique, ontvang en bestuur die kelder se kruisvloeifiltreerder en mentor ses interns. Dit alles terwyl sy aanpas by onverwagte omstandighede, leer uit uitdagings en haar vaardighede as wynmaker slyp.

En natuurlik kon sy nie hierdie stewige CV opbou sonder ander se leiding en raad, kennis, ervaring, empatie en toewyding tot groei nie. “Daar is baie besonderse mense in die bedryf,” sê sy. “De Wet Viljoen en Guy Webber het albei ’n magdom kennis en ervaring, en het dit sonder skroom gedeel. Lauren Behrens het haar praktiese kennis en insig oordadig gedeel en sy weet hoe om klein oorwinnings te vier. Kayleigh Hattingh se geesdrif vir wyn is eenvoudig aansteeklik. Ek het net so baie geleer by André le Roux, wynmaker by Rupert & Rothschild, en Johann Fourie, keldermeester by Benguela Cove. En dan is daar natuurlik Hannes van Zyl – hy’s een van daardie silwerrandjie-mense.”

Wat maak haar opgewonde oor hierdie bedryf? “Die terroir, die innovasie, die gemeenskap en die samewerking. Terroir is soos ’n vingerafdruk wat alles van die grondsamestelling insluit. Hierdie faktore beïnvloed die manier waarop druiwe groei, wat lei tot wyne wat werklik enig in hul soort is met geure en eienskappe spesifiek van daardie streek. Om ’n geleentheid te hê om hierdie sense of place uit te druk en dit in ’n glas met ander te deel is ongelooflik.”

Sy is ook opgewonde oor die innovasie in ons bedryf. “Innovasie skud die produksie van wyn op met presisie-wingerdbou wat voorsiening maak vir meer doelgerigte ingrypings, hoërkwaliteitdruiwe en selfs beter wyne. Dan is daar die volhoubare oplossings, hernubare energiebronne, die deurlopende navorsing oor ligter gewig bottels en/of alternatiewe verpakking, asook druifsoorte wat meer bestand is teen droogte en siektes. Dit bied soveel opwindende geleenthede vir positiewe verandering in die bedryf.”

Mika sê die gemeenskap en hul samewerking is die bedryf se lewensaar. Want as dit nie vir mense was nie, sou sy nooit die mooi herinnering van Nasionale Erfenisdag op 24 September 2021 gehad het nie. Dit het saamgeval met haar pars in Oostenryk en nadat sy wynmaker Josef Fischer en sy verloofde Katja by ’n parspartytjie ontmoet het, is ’n regte egte braai met wingerdstompies vir hierdie dag beplan. ’n Bottel Kaapzicht Pinotage, ’n braaibroodjie en bowenal die samesyn van mense van verskillende uithoeke van die aarde met ’n gedeelde liefde vir wyn het gesorg vir ’n onvergeetlike dag.

Blitsvrae

  • Gunsteling wyn? Onvergeetlik? Château d’Yquem Lur-Saluces 1998. Interessant? Steinwerk, ’n Grüner Veltliner van Domäne Wachau in Oostenryk.
  • Binge-waardige TV-reeks? Ozark! En The Lincoln Lawyer.
  • Gunsteling goedvoelliedjie? Journey se "Don’t Stop Believin’"
  • Iets wat min mense van jou weet? Ek het leer bier drink in Oostenryk. When in Rome...
  • Gunsteling vakansieplek? Waarskynlik êrens in Europa.

Volg vir Mika op Instagram of skakel met haar op LinkedIn.

subscribe to news
Mika Engelbrecht, wynmaker by Neethlingshof
Mika Engelbrecht, wynmaker by Neethlingshof

more news