As ’n gebore Kempton Parker, was wyn glad nie op Charné van Zyl (27) se radar nie. Sy het menslike wetenskappe met vakke soos sielkunde en genetika gaan studeer. Sy het die genetika veral geniet, maar hoe hard sy ook al studeer het, wou die baadjie net nie pas nie. Ná haar tweede jaar was dit duidelik: haar roeping is nie agter ’n mikroskoop nie. “Dit was duidelik nie vir my bedoel nie, maar dit was ’n bedekte seën,” sê sy.
Om haar kop skoon te kry (en van die studieskuld af te werk), het sy in 2017 se Desembervakansie by Domaine de Dieux in hul proelokaal gaan werk. Sy onthou nog hoe skepties sy was of ’n mens werklik al daardie geure in ’n wyn kan optel, maar ná ’n week of twee was sy oortuig: sy wil ’n wynmaker word. “Dit was ’n uitdaging om keuring te kry vir die volgende jaar, maar gelukkig het ek reeds baie van die BSc-vakke gehad.”
Sy het in 2018 wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer en was dadelik verlief op die rigting.
Aan die einde van 2018 het sy in Hermanuspietersfontein se proelokaal gaan werk, waar die wynmaker, Wilhelm Pienaar, ’n vroeë mentor was. Die heel eerste pars ná haar studies was by Kaapzicht in 2020, gedurende Covid. “Ek sal die ervaring nooit vergeet nie,” sê sy. “Ek het verskriklik baie geleer. Danie Steytler is steeds die persoon wat ek opsoek wanneer ek op ’n kruispad staan.”
Ná parse by onder andere Saltare, Rupert & Rothschild en in Oostenryk se Wachauvallei, het sy in 2022 by Benguela Cove aangesluit vir ’n seisoen, waar Johann Fourie se mentorskap ’n groot impak op haar gehad het. Ná die parsseisoen het sy die Business of Wine-kursus aan die Universiteit van Kaapstad se besigheidskool voltooi om meer oor die besigheidskant van die bedryf te leer.
As Benguela Cove se bestemmings- en ervaringspesialis het sy keldertoere, wingerdtoere en proeë vir besoekers aangebied, wat uitgebrei het na handelsmerk- en verkoopskoördineerder. Haar kelderskoene het egter altyd gereed gestaan en sy het begin soek vir ’n pos as assistent-wynmaker. In November verlede jaar het sy ’n pos by Oak Valley aanvaar.
Haar groot droom is om eendag die eerste geslag wynmaker met haar eie wyn en etiket te wees, en ’n erfenis te skep waarop haar nageslag kan voortbou. Sy kan dit in die fynste besonderhede visualiseer. “Daar is ’n proelokaal waar mense herinneringe kan skep, miskien ’n intieme restaurant met goeie kos, waar ek self vir mense my wyn kan skink en gesprekke daaroor voer, miskien selfs met my eie keldertjie en ’n wingerdblok of twee.”
Intussen is haar korttermyndoelwit om genoeg kennis en selfvertroue op te bou om die wynmaker of keldermeester op ’n plaas te kan wees. “Ek is nou op ’n baie goeie plek met Jacques du Plessis as leermeester,” sê sy. “Hy is verskriklik geduldig.” Sy word aangespoor deur ’n goeie skoot ambisie en die oneindige potensiaal vir groei in die bedryf. “’n Mens kan nooit genoeg leer of weet oor wyn nie. Dis ’n bedryf wat konstant groei en die mense wat daarin werk se entoesiasme is aansteeklik.”
Sy moedig ander jongmense wat in die bedryf belangstel aan om by daardie entoesiasme in te tap. “Gaan voluit. Ek kan nie dink hoekom iemand nié sal wil deel wees van so ’n dinamiese bedryf nie.
Johann sê altyd wynmaak is die grootste spansport wat daar is – van die wingerd tot waar verbruikers sit en die wyn geniet. Dis ’n ongelooflike voorreg om deel daarvan te wees.”
Charné beskryf haarself as ’n go-getter. “Ek laat nie klein goed my onderkry nie. Ek het ’n duidelik prentjie van waar ek myself sien en wat ek wil bereik. Ek weet dit gaan harde werk en tyd kos, maar soos mense altyd sê, as jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Ek moet my net nou en dan op die skouer tik en herinner om nie te onrealisties te wees nie.”
Haar ervaring van die bedryf is vol “klein wows”, en sy put genot uit klein dingetjies. “Ek kan net dink hoe gaan die groot wow eendag wees, maar daar moet nog baie water in die see loop,” sê sy.
Blitsvrae
- Gunsteling wyn? Kaapzicht se Kliprug Chenin.
- Binge-waardige TV-reeks? Chef’s Table, The Block en al die Chicaco-reekse.
- Gunsteling goedvoelliedjie? "Seven Wonders" deur Fleetwood Mac.
- Iets wat min mense van jou weet? Ek love Kurt Darren.
- Gunsteling vakansieplek? Die Amalfi-kus in Italië. Dis die mooiste plek wat ek al ooit gesien het.
Volg Charné op Instagram of LinkedIn.