Clarissa Viljoen (29) het in 2012 aan die Hoërskool Strand gematrikuleer en het daarna ’n oorbruggingsjaar by Studio7 School of Photography and Design gedoen.
Haar liefde vir die wynbedryf is aangewakker toe sy in hierdie tyd by Morgenster as ’n proekamer-assistent vir ’n ekstra geldjie gewerk het. Dit het haar gemotiveer om vir ’n diplomakursus in toerismebestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie op Wellington te registreer terwyl sy oor naweke by Knorhoek-wynplaas as ’n proekamer-assistent gewerk het.
In 2016, in haar finale studiejaar, het sy haar prakties by Welbedacht as ’n algemene administratiewe assistent gedoen en het sy goeie bedryfservaring opgedoen.
Die reisgogga het haar in 2017 gebyt en sy het tot 2019 as kajuitpersoneellid vir Qatar Airways in besigheidsklas gewerk en verdere opleiding in wyn ontvang. “Dit was vir my so lekker om weer met mense oor wyn te kan gesels en my kennis van wyn op te skerp,” sê sy.
Terug in Suid-Afrika, het sy besluit om in die wynbedryf te werk, maar weens die pandemie was dit ’n uitdagende taak. Sy het die tyd te benut om haar WSET-vlak 2 te voltooi. In 2021 is sy as proelokaalbestuurder en bemarkingsassistent by DeMorgenzon-landgoed aangestel. Sy het intussen ook die Garagiste-kursus afgehandel en verlede jaar haar WSET-vlak 3 agter die rug gekry.
Die geleentheid om as bemarkingskoördineerder vir Boekenhoutskloof te werk het in 2022 opgekom en sy het dit met ope arms aangegryp. “Hierdie aanstelling is ’n groot mylpaal in my loopbaan,” sê sy. “Ek voel geëerd dat hulle my vertrou om hul handelsmerk te verteenwoordig.”
Verskeie mense in die wynbedryf het Clarissa oor die jare gemotiveer.
Lynton Kaiser, verkoops- en bemarkingsbestuurder by Boekenhoutskloof, beskryf Clarissa as ywerig, leergierig en deeglik. “Ek bewonder haar vermoë om kalmte in die werkplek te handhaaf, ongeag die situasie. Sy is ’n plesier om mee saam te werk.”
Sonja Dias, voormalige proelokaalbestuurder by Morgenster-landgoed, het iets in Clarissa raakgesien en haar ’n hupstoot in die wynbedryf gegee. Clarissa beskou Sonja as ’n belangrike mentor in haar lewe en sal haar vir ewig dankbaar wees vir die vertroue wat sy in haar geplaas het.
“Adam Mason, voormalige keldermeester by DeMorgenzon, het ook ’n wesenlike impak op my gehad en my sterk gemotiveer om my kennis van die wynbedryf uit te brei,” sê Clarissa. “Sy aanmoediging en leierskap het my geleer om nie op te gee nie.”
Sy droom om eendag ’n wynbeoordelaar te word en op die paneel van ’n toekenningskompetisie te sit. “Dit gaan nie net vir my oor die ervaring nie, maar ook om my selfvertroue op te bou,” sê sy.
Clarissa is daarvan oortuig dat kenners in die bedryf saam met die verbruikers groei en dat dit die perfekte voedingsaarde vir nuwe idees is. “Met ’n diverse waardeketting, glo ek vas Suid-Afrika se wyn het die potensiaal om bo die res van die wêreld uit te steek.” Sy glo daar is nog ’n paar harde klippe om te kou, veral in die prysklas van Ou Wêreld-wyne, maar sy is vasberade om die hindernisse te trotseer en die sukses van Suid-Afrikaanse wyn verder te bevorder.
Blitsvrae
- Gunsteling wyn? Enige Shiraz.
- Binge-waardige TV-program? How I Met Your Mother
- Gunsteling goedvoelliedjie? "Ends of the Earth" deur Lord Huron
- ’n Minder bekende feit oor jouself? Ek kan klavier en dwarsfluit speel.
- Gunsteling vakansieplek? Bali
Volg vir Clarissa op Instagram of LinkedIn.