Cap Classique maak sy eerste skuif in die 2021-wingerdspel I #kleinbietjiewyn

Friday, 15 January, 2021
Samarie Smith
“Skaak-nerds!” As jy die boelies se gekwets buite die biblioteekvenster kon uitblok, was pouse tyd nét genoeg om jou strategie voor ‘n skaakwedstryd te oefen. Die wêreld het skaars ‘n dekade daarná aangeskuif toe ek ‘n kranige toeskouer van ‘n ewe strategiese spel word.

Nóú ‘n trotse cork-dork, is Januarie tot Maart een van die mees fasinerende tye in die Kaapse wynlande en om dop te hou watter skuiwe keldermeesters gaan maak om die beste wyn in die bottels te kry.

Ek sal nooit vergeet hoe my enigste redding, gestrand op ‘n treinstasie tussen Hong Kong en China, gekom het van ‘n vreemde Spanjaard wat bereid was om my Hong Kong Dollers vir Chinese RMB te verruil sodat ek ‘n kaartjie Guangzhou toe kon koop. Die woorde op my sak, Hong Kong International Wine & Spirits Fair, het hom duidelik oortuig en met ‘n vinnige bekendstelling van “Are you a wine person?” het hy ‘n verdwaalde wynsiel aan die arm gegryp, op ‘n trein gekry en oor die grens gehelp. Dís nou iemand wat tussen Hong Kong en China pendel om jong kinders skaaklesse teen R1500/uur aan te bied.

‘n Paar jaar later sit die wêreld vasgenael voor die kassie om die immergewilde The Queen’s Gambit Netflix-reeks te kyk waar ‘n jong meisie haar pad strategies oopskuif om ‘n Wêreldkampioen-skaakspeler teword. Snags het sy op haar rug in die bed gelê en denkbeeldige skuiwe teen die dak gemaak om haar strategie te oefen. Ek is seker wynmakers lê ook só en planne maak. Behalwe die slapelose nagte as die groeiseisoen sy eie onverwagse skuiwe maak, verg wingerdbou en wynmaak tien maande se beplanning gevolg deur ‘n twee-tot-drie-maande-lange venster waarin al die deurslaggewende skuiwe gemaak moet word. En sodra jy dink jy is een vooruit, bring veranderlikes soos reën, son en wind ‘n kinkel na die spel wat nét met fyn tydsberekening en vernuf bestuur kan word sodat jy nooit die skaakmat-aftog met minderwaardige druiwe hoef te blaas nie. Jy is immers oorgelewer aan die groot meester, die natuur, wat jou altyd een skuif voor is.

Nou wel, 2021 is hier en die Koningin van druiwe, Chardonnay, het haar eerste skuif op die wynlande se skaakbord vir Cap Classique gemaak en wat, gegewe optimale toestande en die mees gepaste terroir, in enige rigting kan skuif om vonkelwyn-liefhebbers se harte met verskillende style te verower.

Suid-Afrika blink uit met Chardonnay en die veelsydigheid daarvan word wêreldwyd in top gehalte vonkelwyn in die tradisionele metode benut. As een van die mees vinnig-groeiende kategorieë in die wêreld met opwindende voorbeelde nou ook uit Engeland en Tasmanië, het die Cap Classique-vereniging se slim skuif om die minimum tyd op die gismoer van 9 tot 12 maande te verleng, Cap Classique ‘n meer mededingende voordeel in hierdie kompeterende mark gegee.

Simonsig en oorle Frans Malan is die “pion”ier van Cap Classique en vanjaar vier Suid-Afrika die 50ste herdenking sedert die eerste Kaapse Vonkel die lig gesien het en ‘n wyn op plaaslike bodem in die Methode Champenoise-styl gebotteleer is. Nét om dit weer onder die kalklig te bring, het sy seun Johan Malan wat in sy voetspore gevolg het, verlede jaar die titel van Diners Club Wynmaker van die Jaar met die legendariese Kaapse Vonkel ingepalm.

Johan beaam Chardonnay bring die elegansie en adelikheid na ‘n wyn soos wat ‘n mens dit van ‘n Koningin kan verwag.

“Wanneer die wyn jonk is, hou dit baie terug, maar met geduld sal jy leer die prinses het tyd nodig om haar koninklike troon te bestyg. Chardonnay is die druifsoort wat die langste neem om sy karakter ten volle te ontwikkel; dit kan sewe jaar of langer neem.”

“In my ervaring vaar Chardonnay uitstekend op verweerde skalie wat miljoene jare gelede gevorm is. Die grond bevat 40% klei, ‘n reservoir vir winter reën om die plant deur warm somers te help. Dít, met die nabyheid van die Atlantiese see, dra by tot die ontwikkeling van geurintensiteit, goeie struktuur, suur en gesonde pH’s.”

Die opofferings wat hier gemaak word, is altyd ter wille van die beste gehalte, vertel Johan, omdat Chardonnay stokke vinniger verouder en ná 20 jaar groeikrag verloor en net sowat 5 tot 6 ton per hektaar lewer. “Gelukkig ontwikkel die wyne dan ekstra diepte en intensiteit.”

Terwyl daar geen spoedskaak op die kaarte is wanneer dit by Cap Classique kom nie, moet die wynmaker die rypwordingsvensters vir Cap Classique verstaan om vinnige besluite te neem wanneer dit by optimale rypheid en die perfekte pluktyd kom om maksimum geur en intensiteit te verseker.

“Jy moet dit 100% reg kry. Dit is soos om op ‘n tou oor ‘n afgrond te loop. As die druiwe Vrydag gepluk wil word, kán jy nie tot Maandag wag nie.”

Malan se gunsteling Chardonnay blok is in die 90’s geplant en word gebruik om Simonsig se Cuvee Royale Blanc de Blancs te maak. Slegs die Tête de Cuvée word gebruik wat beteken net 350 liter per 1000 kg druiwe word gebruik vir ‘n super verfynde en delikate vonkelwyn.

In Robertson is daar ‘n Cap Classique-meester wat al vanaf dag een in sy loopbaan met Chardonnay werk, Pieter “Bubbles” Ferreira.

Graham Beck keldermeester, Pieter "Bubbles" Ferreira

“Chardonnay kan in enige rigting skuif en sy terroir vrypostig maar met finesse vertolk.”

Sowat 80% van Graham Beck se Chardonnay vir Cap Classique kom van hul Robertson-landgoed en 20% kom van elders wat koeler klimate en wingerd op Tafelberg-sandsteen of verweerde graniet insluit wat tot nóg geur profiele bydra.

“Robertson het baie voordele: sonskyn, die hoogste voorkoms van kalksteen in ons Rooi-Karoo- en Schistgronde en groot verskille van tot 20˚C tussen dag en nag temperature. Daar is sewe Chardonnay-klone op ons plaas wat elkeen unieke karaktereienskappe tot die basis wyn bydra.

Nóg ‘n slim skuif is hulle teken langtermynkontrakte met die boere by wie hulle druiwe aankoop wat hulle meer beheer oor konsekwente gehalte gee. Toenemende kompetisie wêreldwyd verg dat  jy jou opponent alreeds in die wingerd vooruit moet wees.

“Dís waar die spel begin,” beaam Ferreira.“Híér kan jy fisies sien of jou Koningin bedreig word. Die besluit tussen ‘n goeie of ‘n uitstaande basis wyn word bepaal oor hoe jy snoei, suier en loof bestuur doen. Die harde werk en opofferings wat jy in die wingerd maak, sal geleenthede skep om met die beste van die beste te begin. Vandaar sal alles strategies in plek val.”

Terwyl Pieter konstant die perfekte borrel najaag (soos hy dit noem) glo hy die slimste skuif is steeds om ‘n duidelike idee van jou ambisie en aspirasie te hê as jy bo-aan die tellingsbord wil bly.

“Daar is baie keuses langs die pad en die kleinste detail speel ‘n rol. Dit is nét so belangrik om te kan visualiseer hóé die finale Cap Classique sal lyk wanneer dit uiteindelik gereed is om,18 maande of vyf jaar later, bekendgestel te word. Dít is hoe jy sal wen.”

Elke jaar is daar net een kans om die regte skuiwe te maak en aan die voorpunt van die spel te bly.“’n Wyse skuif vir die 2021-seisoen is dat alles by Graham Beck nou in die aand gepluk sal word. Die sap se temperatuur is dan ten minste 50% koeler en dit sal ons meer ruimte gee om absolute noukeurigheid te handhaaf. Ons is baie opgewonde oor hierdie skuif.”

Ná jare se strategiese skuiwe, sonder Ferreira hul blok 14 Chardonnay (bekend as die kloontuin) uit as ‘n spesiale blok met sowat 4000 stokke per hektaar wat agt ton per hektaar vrug lewer.

“Daar is vier verskillende klone in hierdie blok: 277, 548, CY5, 96 wat in 2004 op kalksteenryke gronde geplant is. Dít is waar die Blanc de Blancs vandaan kom. Elke kloon word apart gepluk en gefermenteer. Die vertikale lootposisie waarvolgens die wingerd opgelyn is met ses drade in die vrugsone, verseker sowat 16-20 blare wat help met rypwording én ekstra skadu verskaf.”

Dit is een slim skuif na die ander. Beheerde aanvullings-besproeiing word gemonitor deur die weerstasie en neutron vogmeters. Dit is ook een van die blokke waarop NDVI-studies toegepas word (normalized difference vegetation index). En, om sy hand internasionaal op die spel te hou, maak Pieter ook vonkelwyn in die tradisionele metode in Amerika en in Engeland.

“Die verbruiker soek ‘n spesifieke huisstyl. Jy móét jaar na jaar dieselfde gehalte en style kan bied. Jy moet ook weet hoe ander vonkelwyne proe wat in die tradisionele metode gemaak word, anders gaan jou ruiter blindelingse skuiwe maak met oogklappe aan.”

Cap Classique-produsente is besig om die speelveld te definieer en hulle maak slim skuiwe om die beeld van Cap Classique te versterk. As die vinnig-groeiendste kategorie in Suid-Afrika en met meer as 5.3 miljoen bottels wat jaarliks uitgevoer word, is die strategie nou om Champagne-drinkers van die uitstaande gehalte te oortuig.

Volgens Elunda Basson wat amper self soos ‘n koningin op die skaakbord is nadat sy agter die stuur van handelsmerke soos Nederburg, Pongrácz en J.C. Le Roux die plaaslike en internasionele verbruiker ure se vonkelwynplesier besorg het, en die rol nou in die hoedanigheid as Steenberg se keldermeester vertolk, móét jy jou handelsmerk verstaan.

“Jy begin met die finale identiteit in jou kop en werk vandaar jou stappe terug. Op dié manier begin jy met die regte bestandele om by die regte bestemming te kom.

Sy glo die grootste diamant in Chardonnay se kroon is die vermoë om waar dit vandaan kom in die glas uit te druk, maar dat verbruikers die groot opofferering van tyd moet verstaan wanneer dit by Cap Classique se pryspunt kom.

“Tyd en bottelveroudering speel ‘n enorme rol en dit is ‘n groot finansiele uitgawe en ‘n langtermynbelegging in die gehalte van jou produk vir wanneer dit uiteindelik gereed is om mark toe te gaan.”

Vir drie mense wat al ‘n lang tyd in die Cap Classique-spel is, is instink die finale skuif in elkeen se strategie wat net met baie ondervinding deel van die spel kan word.

“Cap Classique sal altyd ‘n opwindende spel bly. Solank ons die regte skuiwe maak om die verbruiker te verstaan en al die middele benut om jaar na jaar konstante oorwinnings in terme van gehalte te behaal, sal dié Koningin vir Suid-Afrika bly uittroon.”

subscribe to news
Simonsig Cuvee Royale
Simonsig Cuvee Royale

Johan Malan, Diners Club Wynmaker van die Jaar
Johan Malan, Diners Club Wynmaker van die Jaar

Elunda Basson, Steenberg keldermeester
Elunda Basson, Steenberg keldermeester

more news