30 Under 30: ’n Vonkel in haar oog

Friday, 16 August, 2024
WineLand, Johannes Richter
Janeke Beck se liefde vir die natuur is op ’n jong ouderdom gekweek tydens naweke en vakansies op haar oupa en ouma se plaas.

Janeke Beck (28) onthou nog goed die gereelde ritte deur die wingerde saam met haar oupa in sy bakkie. “Ons het oral gestop en druiwe geproe,” sê sy. Die belangstelling het op skool geblom tot ’n liefde vir biologie en ’n fassinasie met die natuurlike prosesse van plantontwikkeling en rypwording.

Toe sy boonop die wyn kon proe ook, was haar roeping in die wynbedryf finaal gesmee. “Hoe kan iets so eenvoudig en delikaat soos ’n druiwekorrel soveel aromas en kompleksiteit ontwikkel? Ek het al vroeg in my hoërskoolloopbaan geweet ek wil ’n wynmaker word, veral met al die kreatiwiteit en hands-on werk wat daarmee gepaardgaan. Ek hou nie van stilsit nie.”

Familie en vriende is haar grootste ondersteuners, asook natuurlik haar verloofde, Richard Schroeder, wat wynmaker by Groot Phesantekraal is. “Hulle het my van dag een af moed ingepraat en my suksesse saam met my gevier,” sê sy. Daar was ook geen tekort aan ondersteuning vanuit die bedryf nie. “Ons is baie gelukkig om so ’n klomp mentors in die wynbedryf te kan hê, van oud tot jonk. Almal is meer as bereid om hul kennis te deel en raad te gee. Ek beskou Charles Hopkins as so ’n mentor – sy raad, omgee en passie vir jongmense in die bedryf raak net nooit op nie.”

Janeke het onlangs die voortou geneem by Diemersdal met die maak van Diemersdal se eerste Cap Classique. Diemersdal is bekend vir sy wye reeks Sauvignon Blancs, maar iets het nog ontbreek. “Die idee het ontstaan uit baie navrae van ons kliënte. Ons wou graag ’n premiumproduk maak en het op ’n Cap Classique besluit. Dit was ’n baie opwindende uitdaging aangesien dit ’n hele nuwe produk in Diemersdal se portefeulje is.”

Die hoogtepunt was die dag toe die 2022 Diemersdal MCC vir die eerste keer vrygestel is. Die reaksie was baie positief. “Dit was vir my so spesiaal om te sien dit word so goed ontvang nadat ek so baie tyd en liefde ingesit het,” sê sy. “Dit is ’n stukkie van my in Diemersdal se reeks. Dis ook altyd lekker om almal se terugvoer te hoor. So leer ek en dit motiveer my net meer om my doelwitte te bereik.”

Die ervaring het haar aangespoor om verder te droom en eendag haar eie wynetiket te begin. Cap Classique pas haar soos ’n handskoen. “Ek is iemand wat baie presies is en aan die kleinste besonderhede aandag gee,” sê sy. “Dit was so ’n bevredigende ervaring om Cap Classique te maak. Ek geniet die proses, delikaatheid, kreatiwiteit en presisie wat daarby betrokke is.”

Die toetrede van soveel jongmense tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf oortuig haar dit is op ’n gesonde plek. “Dis opwindend om almal se opgewondenheid, entoesiasme en innovasie te beleef en om te sien hoe die Suid-Afrikaanse wyne op die wêreldverhoog presteer.”

Vir die tye wat dit moeilik gaan, het sy ook ’n antwoord. “Ek sê altyd vir myself: vasbyt en luslyk! Veral ná ’n harde dag se pars of ’n lang dag se werk. Ons werk in ’n baie opwindende bedryf. Moenie ophou leer, groei en eksperimenteer nie. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Ons moet vrae vra en nuuskierig wees. So kom ’n mens agter wat werk en hoekom. Gebruik elke geleentheid wat met wyn verband hou as ’n geleentheid om meer te leer.”

Blitsvrae

  • Gunstelingwyn? Ek is in 1996 gebore, so ek kan dadelik my vinger lê op die 1996 La Côte des Monts Damnés Sancerre wat Jean Christoph Bourgeois vir my laat proe het op my eerste besoek aan Frankryk. Beste ervaring ooit.
  • Binge-waardige TV-reeks? Vir seker ’n stukkie Boer Soek ’n Vrou.
  • Gunsteling-goedvoelliedjie? "Don’t Stop Believin’" deur Journey.
  • Iets wat min mense van jou weet? Tuinwerk is vir my baie terapeuties.
  • Gunsteling-vakansieplek? Enige plek waar ek off the grid kan wees, naby die natuur of by die see.

Om op hoogte te bly met Janeke, volg haar op Instagram as @janekebeck of skakel met haar op LinkedIn.

subscribe to news
Janeke Beck, wynmaker by Diemersdal
Janeke Beck, wynmaker by Diemersdal

more news