Yolandi Botha (28) se loopbaan in landbou skop in 2018 af pas nadat sy haar agribesigheidsbestuurgraad aan die Universiteit Pretoria behaal het en sy met ’n internskap by Agri SA begin onder leiding van die uitvoerende hoof, Omri van Zyl. Hierna word sy by Agri Wes-Kaap as droogte- en risikobestuurder aangestel en in 2020 verruil sy die groter landboubedryf vir wyn.
In haar kort loopbaan het sy reeds verskeie primêre produsente bygestaan met behoorlike koste-ontleding sodat hulle ingeligte besluite kan neem en finansiële stabiliteit kan behaal. Sy het ook reeds talle artikels vir Beeld, Finweek en WynLand geskryf, en vyf Vinpro-kostegidse gepubliseer wat wyndruifprodusente help om besluite oor aanplantings en begrotings te maak.
“Vinpro het al vroeg my aandag getrek en ek was in verwondering oor hoe betrokke hulle by hul produsente is om die meeste waarde op plaasvlak te probeer ontsluit,” sê sy. “As Pretorianer was my kennis van wyn redelik beperk, maar ’n klein groepie koorvriende het dit sommer vinnig geremedieer deur my elke Maandagaand uit te neem vir ’n glasie wynopleiding en vandag kan ek myself met trots as ’n meester-amateurwyndrinker bestempel.”
Sy was bevoorreg om reeds vroeg betrokke te wees by die ontwikkeling van Vinpro se produksieplan-sisteem. Dit het haar geleer hoe om te bepaal wat produsente se behoeftes is en hoe om dit op ’n praktiese, gebruikersvriendelike manier uit te druk. “Ek wil graag hierdie kennis en ervaring gebruik om ’n nuwe behoefte in die bedryf te identifiseer en sodoende ’n diens of stelsel staan te maak om nie net produsente nie, maar ’n groter gedeelte van die wynwaardeketting te steun.”
Volgens Yolandi het wynprodusente ’n ongelooflike vermoë om alledaagse metodes te gebruik om probleme op ’n nuwe manier te takel en op te los. “’n Voorbeeld hiervan is ’n produsent wat osoon gebruik om sy drupperpype skoon te maak wat nie net meer effektief is as peroksied nie, maar ook baie meer koste-effektief is. Dit maak my opgewonde om te sien hoe innoverend en toeganklik tot nuwe idees produsente kan wees, veral in die uitdagendste omstandighede. Dit spreek vir my van die veerkragtigheid van die wynbedryf.”
Met ’n aanleg vir beide syfers en woorde, is dit vir haar belangrik om kreatief in haar loopbaan te wees. “Daar bestaan soms ’n wanpersepsie dat ekonome heeldag agter hul skerms sit en somme maak,” sê sy. “Maar die kenmerk van ’n goeie ekonoom is die vermoë om data op ’n praktiese en toeganklike manier in woorde om te sit sodat enigeen daarbuite die inligting kan verstaan en gebruik. Dit is daarom belangrik om kreatief te raak met die inligting wat jy voor jou het, te besluit watter komponente jy wil uitlig uit die magdom data en dit dan deur middel van grafieke, illustrasies of skryfwerk maklik leesbaar te maak.”
In ’n landbou-ekonoom se loopbaan is daar selde die geleentheid om te sien hoe eindresultate uitspeel. Hulle meet en ontleed inligting, rapporteer en maak aanbevelings om produsente se situasie op grondvlak te verbeter. Die handjievol kere dat produsente wel laat weet dat jy ’n daadwerklike invloed gehad het om die wiel te laat draai voel vir haar elke keer opnuut soos ’n ongelooflike prestasie.
Dat die bedryf haar na aan die hart lê, is gewis. Dit blyk uit ’n vroeë herinnering van haar heel eerste besoek aan ’n wyndruifprodusent in die Swartland. “Ons het aan die gesels geraak en ek het genoem dat ek op 1 Mei 2020 trou. Hy het opgespring en ’n bottel van sy MCC gaan uithaal en vir my gegee. Daardie einste bottel het ek deur die grendeltyd gebêre en dit op my troudag presies ’n jaar later met my gevolg gedeel.”
Blitsvrae
- Gunsteling wyn? Ken Forrester se 2017 FMC
- Binge-waardige TV-reeks? Black Mirror
- Gunsteling goedvoelliedjie? Ra Ra Riot se "Absolutely"
- Iets wat min mense van jou weet? Skynbaar weet niemand dat ek onder 30 is nie! Maar ook nie dat ek ’n sanger in Skouspel 2011 was nie.
- Gunsteling vakansieplek? KZN se Middellande.
Skakel met Yolandi Botha via LinkedIn.