Deur sy akademiese jare en verskeie professionele pogings het hy sy vaardighede opgeskerp en geleenthede met ywer aangegryp. Sy entrepreneurskap skyn deur al sy ondernemings, van finansiële bestuur en wyntoerisme tot internasionale verkope.
Henlo Swart (25) het sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool Paarl in die hartjie van die Kaapse Wynland voltooi. Daarna het hy aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar hy in 2019 met ’n BCom in bestuursrekeningkunde en ’n honneursgraad in 2020 gegradueer het.
Van 2021 tot 2022 werk hy as ’n leerlingbestuursrekenmeester by Finovate waar hy waardevolle ondervinding in finansiële state, belastingvoorleggings en rekeningkundige beginsels opdoen.
In 2022 sluit hy by die familiewynbesigheid, The Wineline, aan en werk hy saam met gesogte landgoedere soos Delaire Graff en Rust en Vrede. Aangevuur deur sy liefde vir wyn en reis, stig hy dieselfde jaar sy eie besigheid, Wines of Paarl. As deel van sy voorneme om werkloosheid in Suid-Afrika te beëindig, bied Wines of Paarl wynsafari-toere aan om werkgeleenthede en toerisme in die streek te bevorder.
“Om ’n besigheid te begin wat in sy eerste jaar finansieel gelyk breek sonder enige finansiële inspuiting of hulp van buitepartye, is ’n prestasie waarop ek met trots kan terugkyk,” sê Henlo.
In Julie verlede jaar het hy The Wineline verlaat en ’n wonderlike geleentheid benut om as ’n spesialis in regstreekse voorsiening aan verbruikers (DtC) by Cape Ardor en CellarX te werk. Hy fokus hoofsaaklik op verkope en sakeontwikkeling en werk tans met verskeie wynkelders regoor Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland, en bied oplossings aan om aan die Amerikaanse mark te verkoop.
André Delport, bedryfsdirekteur by CellarX, beskryf Henlo as ’n uitblinker en iemand wat floreer wanneer hy saam mense werk. “Sy liefde lê binne die wyn- en wyntoerismebedryf, waar hy die afgelope paar jaar uitsonderlike vaardigheid en sukses getoon het,” sê André. “Dit is ’n plesier om Henlo in die span te hê want sy toewyding aan ons saak en die span dien as ’n kragtige bron van motivering vir ander.”
Henlo geniet veral die toerisme-aspek van die bedryf.
“Dit vorm ’n groot deel van ons land se ekonomie, veral in die wynlande, en dit skep ’n verbysterende hoeveelheid doelgerigte werksgeleenthede,” sê hy. “As ons meer hieruit kan put, sal nie net die bedryf nie, maar ook sy mense, baie voordeel daaruit trek en beter in die lewe vaar.”
Hoewel Henlo se loopbaan nog relatief jonk is, is dit vol gedenkwaardige oomblikke. Een van die hoogtepunte is die geleentheid om glase te klink met wêreldberoemde wynmakers
en besigheidsleiers, en uit hulle wysheid te leer, sê hy. “Ek is opgewonde en optimisties oor Suid-Afrika as geheel en ek glo vas in die wynbedryf se blink toekoms. Die statistieke weerspieël groei en vooruitgang, en ek sien ’n helder pad vorentoe vir ons land se wynkultuur.”
Hy is daarvan oortuig dat tegnologie ons tot nuwe hoogtes kan verhef, maar hy waak ook teen die verlies van ons geliefde tradisionele wynstyle en -kultuur wat ons oor dekades opgebou het. As ’n land wat uitmuntende wyne skep, glo hy Suid-Afrika kan op internasionale vlak meeding.
Blitsvrae
- Gunstelingwyn wat jy al ooit geproe het? Wit – Idiom Sauvignon Blanc. Rooi – Francois van Niekerk Pinotage.
- Binge-waardige TV-program? Enige sport. Ek kyk net sport.
- Watter liedjie beur jou gou op? "What’er My God Ordains Is Right"
- ’n Minder bekende feit oor jouself? Ek praat ’n bietjie Duits. Genoeg om te kan gesels.
- Jou ideale vakansiebestemming? Plaashuis in die bosveld tussen niks en nêrens.
Skakel met Henlo via LinkedIn.