Chantelle van Heerden (24) het haar wynreis begin nadat sy haar BA graad in visuele kommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch in 2022 voltooi het en sy by La Boucher Wines se proelokaal oor die Desembervakansie begin werk het. Binne ’n maand het sy haarself opgewerk van toergidse bel om inligting te versamel tot proekamerbestuurder.
Daarna het sy haar net wyd gegooi en by verskeie wynplase vir werk aansoek gedoen al het sy nie enige wye ervaring in die veld gehad nie.
Stellenbosch Vineyards het haar ’n kans gegee op grond van wat sy self geleer het en die feit dat sy glo innovasie moet strategies met tradisie geïntegreer word. Sy is verlede jaar as bemarkingskoördineerder aangestel.
Sy het al hoe meer verantwoordelikhede aanpak en werk nou saam met al vyf AdVini se wynplase. Haar kreatiewe vaardighede kom ook handig te pas en sy benut dit om etikette te ontwerp en om inhoud vir sosiale media en handelsmerkvideo’s te skep. Sy help ook die verkoopspan om met internasionale kliënte te werk en aktiverings of promosies te doen.
“Ek is gefassineerd deur die sielkundige invloed wat in die wynbedryf na vore kom,” sê sy. “Elke verkoper en verbruiker dink anders oor ’n handelsmerk en dit maak ons bedryf interessant.”
Haar wynreis is aangehelp deur die rigtingwysers en ondersteunende hande wat haar op koers gehou het. Haar kêrel, Anro Botha, plaasbestuurder by Le Bonheur landgoed, se liefde vir wyn, het haar ook aangevuur en in kontak gebring met mense in die bedryf.
Danie en Carin Steytler, onderskeidelik wynmaker en direkteur en bemarkingsbestuurder van Kaapzicht, het haar gesteun in alles wat sy doen. Van ’n bemarkingsperpektief het Edo Heyns, voormalige strategiese ontwikkelings- en bemarkingsdirekteur by AdVini, as mentor opgetree en haar gemotiveer om vir WynLand se 30 Onder 30 in te skryf.
“Chantelle werk nog ’n relatief kort tydjie vir ons, maar dit is duidelik dat haar loopbaan gaan ontplof,” sê Frits Brune, nasionale verkoopsbestuurder en groepsommelier van die AdVini-groep. “Van die begin af was haar borrelende entoesiasme opmerklik en het sy positief tot ons verkoopspan bygedra. Geen taak is te groot vir haar nie. Die uitdaging is eerder hoe om haar te tem as hoe om haar te motiveer.”
’n Mylpaal langs haar professionele pad was toe sy verlede jaar vir die eerste keer die aflewering van ’n trok wyne van Stellenbosch Vineyards se vyf landgoedere moes koördineer. ’n Skoolkontak het haar genader om ’n wyntent by Hoërskool Noordheuwel se Afrikaans in die Wolke Fees in Krugersdorp te reël. Sy het saam getoer, proeë aangebied en die storie agter elke handelsmerk gedeel. “Ek kan met trots sê ons het ’n hele nuwe mark in Krugersdorp oopgemaak danksy daai tent,” sê sy.
Sy mik om binne die volgende twee jaar haar WSET-kursusse agter die rug te kry en verder in die maatskappy te groei. Sy glo die nuutste bemarkingsneiging vir wyn is humor. Dit help ook om die stigma rondom wyn te breek.
Blitsvrae
- Gunsteling wyn? Stellenbosch Vineyards Limited Release Grenache 2018.
- Binge-waardige TV-program? Yellowstone
- Gunsteling goedvoelliedjie? "Nobody But Me" deur Michael Bublé.
- ’n Minder bekende feit oor jouself? Ek het SA kleure in hiphop.
- Gunsteling vakansieplek? By die see.
Chantelle is op Facebook, Instagram en LinkedIn.