“Ek het baie gou ná ’n paar weke se klasloop by die Universiteit Kaapstad besef kuns is definitief nie vir my nie,” sê Anmar van Niekerk (27) oor haar tweede keuse. Sy het op skool ’n paar keer in proelokale gehelp, maar wingerd en wyn was glad nie op haar radar nie. “Ek kan nie mooi onthou hoe ek besluit het om aansoek te doen vir wingerd- en wynkunde by die Universiteit Stellenbosch nie,” sê sy. “Ek glo dit was seker ’n roeping want vanaf die eerste kwartaal het ek geweet dit is vir my bedoel. Ek het in 2019 my graad voltooi met ’n beurs van die Kaapse Wynmakersgilde.”
Die persoon wat in dié tyd die grootste invloed op haar gehad het, was die departementshoof, prof Maret du Toit. “Sy het baie navorsing gedoen oor Chardonnay en dis waar ek my liefde vir Chardonnay ontwikkel het,” sê Anmar. Ná universiteit is sy as parshulp by Gabriëlskloof buite Botrivier aangestel, waar sy die geleentheid gekry het om by verskeie talentvolle wynmakers te leer. “Ek leer baie by Gabriëlskloof se keldermeester, Peter-Allan Finlayson, wat ook Crystallum hier maak,” sê sy. “Terselfdertyd kan ek met
wynmakers soos John Seccombe van Thorne & Daughters en Marelise Niemann van Momento Wines skouers skuur.” Sy het ook haar man, Albert, hier ontmoet. Hy is wynmaker vir Crystallum en Thorne & Daughters.
Sy het vinnig by Gabriëlskloof van parshulp tot assistent-wynmaker gevorder en in 2023 tot volwaardige wynmaker – ’n prestasie waarop sy met reg trots is. Nóg ’n persoonlike sukses was om saam met Albert hul eie handelsmerk, Van Niekerk Vintners, op die been te bring. “Dis nog klein maar ons het reeds baie goeie terugvoer van bekende kritici
ontvang,” sê sy. “Ons maak ’n wit versnit, ’n Chenin-claret gebaseer op die Lieberstein-versnit van die ’60’s, en ’n Grenache uit Botrivier.”
Persoonlike groei is ’n prioriteit en sy wil graag ’n impak maak op haar wêreld. “As ek eendag wegstap by Gabriëlskloof, sal ek graag onthou wil word as iemand wat ’n noemenswaardige bydrae gelewer het tot die handelsmerk en almal wat daarby betrokke is.”
Anmar vind aansporing in die feit dat vroue meer erkenning in die wynbedryf begin kry. “Daar is soveel jongmense wat nou hul eie brands begin en regtig goeie wyne maak, soos Kayleigh Hattingh van Rebel Rebel en Sam Lambson van Minimalist Wines. Hulle is my portuur en dit maak my opgewonde om deel van ’n groep wynmakers te wees wat op hul eie meriete erkenning kry.”
Daar is nie plek vir halwe pogings in Anmar se wêreld nie. “As jy dit wil doen en ’n toekoms daarin sien, moet jy dit met jou hele hart doen,” sê sy. Sy weet immers wat dit is om as ’n parshulp te moet vloere skrop en dis nie altyd lekker nie. “Dis ’n harde bedryf wat nie altyd so romanties is soos wat dit klink nie, maar as jy die ure insit en dit met toewyding
en ’n liefde vir wyn doen, kan dit net lekker wees. Probeer soveel as moontlik leer by ander wynmakers en mense in die bedryf. ’n Mens sal nooit ophou leer nie.”
Hoewel Gabriëlskloof redelik afgeleë is, beteken dit nie ’n mens is totaal afgesonder nie. Anmar koester elke verhouding wat sy deur haar werk in die bedryf kon bou. “Ek het lewenslange vriende gemaak met parshulpe wat van regoor die wêreld al saam met my in Suid-Afrika gepars het.”
Dalk het sy tóg die kans gekry om ’n kunstenaar te word. “Wynmaak is ’n kreatiewe proses waarvan jy die resultaat kan sien in ’n produk wat jy self geskep het. Dis nogal cool.”
Blitsvrae
- Gunsteling wyn? Sons of Sugarland Syrah, Alheit Nautical Dawn
- Binge-waardige TV-reeks? Below Deck
- Gunsteling goedvoelliedjie? “It’s a Good Life” deur Kongos
- Iets wat min mense van jou weet? Ek het dalk ’n ongesonde obsessie met skoonmaak.
- Gunsteling vakansieplek? Enige plek by die see. Arniston of Hermanus.
Om op hoogte te bly met Anmar via Instagram, volg @anmarsprong en @van_niekerk_vintners.