Die wyntrein om die wêreld

Monday, 5 April, 2021
Samarie Smith
Die aantreklikste dog skrikwekkende vooruitsig van ‘n wyn loopbaan, is dat jy daagliks met ‘n bodemlose bron van kennis gekonfronteer word. En al probeer jy klein slukkies kennis op ‘n slag inneem, maak elke wyn ‘n nuwe portaal oop waarin jy kan verdwyn.

Ek het nooit gedink wyn sou my ideale pootjie om ‘n konflik/dokumentêre fotograaf te word toe ek daardie dag ‘n treinstop in Italië mis en in Luca verdwaal het nie. Maar hierdie gelukstoeval het my oortuig om die wêreld in ‘n glas te verken – soms op eie bodem, soms oor die water.

Wynstudies

Nadat ek my diploma aan die Kaapse Wynakademie voltooi het, het ek die Kaapse Wynmeesterskursus op ys gesit om eers self uit te vind op watter gebied ek hierdie meesterstitel wou toespits. Skielik het wyn hierdie paspoort geword wat my op solo-wynreise rondom die wêreld geneem het. Mense skink graag wyn as ‘n sosiale elikser maar dit verg ‘n dieper kyke om ‘n wynmaker se toewyding te verstaan aan iets wat geheel en al aan die wispulturige karakter van seisoene oorgelaat is. Die intense bewustheid dat jy altyd aan die voete van die natuur staan en jou sakemodel, effens onvoorspelbaar op klei, skalie, silt en sand gebou moet word, is juis wat hulle op hul tone hou. ‘n Verdere nuuskierigheid het my gelei na die Universiteit Kaapstad se sakeskool om wynsakebestuur te studeer en die passie by die pennie uit te bring. Nadat ek hierdie nuutgevonde kennis kon toepas in die rol as handelsmerkbestuurder van ‘n wynplaas, het ‘n nuwe denkskool in wyn my weer nadergetrek, WSET – die Wyn-en-Spiritus-opvoedingstrust, ‘n globale organisiasie wat in Londen gesetel is.

WSET Diploma

Cathy Marston, die hoof van die Suid-Afrikaanse hoofstuk van hierdie instituut, het my oortuig om wéér op die studie-wyntrein te klim. My diploma aan die Kaapse wynakademie het die eerste twee vlakke oorbrug en ek moes vlak drie voltooi om die berugte Vlak Vier aka Diploma (WSETDip) in 2019 aan te pak. Die eerste Diploma-program is in 2015 in Suid-Afrika beskikbaar gestel as ‘n langafstand-studieprogram via Londen. In 2019 kon studente vir die eerste keer klas loop in Suid-Afrika wat deur kenners in hul veld aangebied is.

Al is reise oorsee tans beperk, dryf die landsgrenskoors my na die boeke en ‘n ryke verbeelding dra my deur. Verbeel jouself jy is op reis en loop in die gange van die lughawe af op soek na die hek waar jou bestemming in groot letters flits. D1 (wynproduksie) en D2 (sakebestuur) is meer soos jou bagasie om saam te dra, maar met D4 (vonkelwyn van die wêreld) en D5 (gefortifiseerde wyne van die wêreld), begin jy darem lippe natmaak. Maar as jy by D3 kom, pak jy die trippie reg rondom die wêreld aan.

Die spontane manier waarop Cathy haar kennis deel en jou bystaan met ‘n antwoord op elke vraag, laat dit darem voel asof jy vooruitgang maak.

Volgens Cathy is die WSET Level 4 Diploma in Wyn ontwerp om die volgende generasie van leiers in die wynbedryf te skep.

“Die kursus fokus nie net daarop om ‘n in-diepte begrip van wyn en die verskillende style daarvan rondom die wêreld te bekom nie; dit leer jou ook hoe om die kennis toe te pas met ‘n sterk fokus op die sakemodelle van elke land. Om die WSET Diploma te voltooi, maak internasionale deure oop met baie geleenthede in die hoogste graad van die globale wynbedryf. Ek is baie trots daarop dat ek Suid-Afrikaanse studente kan help om hierdie kwalifikasie te bekom.”

Sy is reg as sy sê die kursus help jou om wyer as ons landsgrense te dink. Dit help om intellegente afleidings te maak en vergelykings te tref met hoe ons dit hier doen en wat in ander lande werk. Dit strek vanaf die wingerde tot by die kelder en veral wat daarná gebeur as die bottel die kelder in sy verpakking verlaat.

“Hierdie denkwyse het my ontsettend baie gehelp in my eie studies as ‘n Wynmeester-student en ek sien dit ook in die gegradueerdes wat saam met my werk. My advies aan studente is om deeglik te wees. Die kursus laat jou nie toe om kortpaaie te kies nie. Dit forseer jou om elke aspek en element van wyn in die globale prentjie te bemeester. Sit maar die ure in, maak daai opofferings, en moenie opgee nie.”

Die wêreld in ‘n wynglas: D3

Frankryk bly maar nog die heiligdom wanneer dit by die fondasie van jou studies kom en dit gaan haal die eerste verhale by die Romeinse Galië om alles in perspektief te plaas. Die grote Bordeaux was grotendeels moerras-agtig totdat Hollandse ingenieurs in die 17de eeu die area dreineer en lewensvatbaar gemaak het om wingerde te plant. Frankryk neem meer as ‘n kwart van jou studiemateriaal in beslag totdat jy by Duitsland kom en die aanloop tot ‘n kommersiële wynbedryf weer uit ‘n ander oogpunt moet sien. Hoe die wynbedryf tussen wêreldoorloë en filoksera (‘n mikroskopiese luis met verwoestende nagevolge) elke keer van voor af kon wortelskiet, getuig van iets wat inherent deel van ons beskawing is.

Chateaux Clarke

Van Qualitätswein tot Prädikatswein, neem dit jou na Oostenryk waar daar sedert die Bronstydperk wyn gemaak word en ‘n druifsoort soos Pinot Blanc nou skielik Weissburgunder gedoop word. Meer na die middel van Europa verstaan jy eers die groot trots van Tokaj (Hongarye) se bekende Aszú as jy hierdie soet nektaar vir die eerste keer kan proe. Maar kommunisme kon nie die soetwyn van konings stuit nie en vandag het internasionale beleggings gehelp om hul erfenis te beskerm. Griekeland maak sy buiging met ‘n aanpasbare druifsoort soos Assyrtiko wat nou ook in Suid-Afrika geplant word. Die volgende swaargewig in jou studiemateriaal, is Italië en hier is Rome letterlik nie in ‘n dag gebou nie want druifsoorte soos Teroldego, Sagrantino, Inzolia en Catarrotto Grillo gaan jou maande lank besig hou. Spanje is ook ‘n mondvol maar dit breek die ys vir kleiner lande soos Portugal wat volg. As ‘n mens dan oorspring na die Nuwe-Wêreldse lande soos Amerika en Kanada, voel dit asof jy kan opkom vir lug in ‘n taal wat jy verstaan met Australië, Nieu Seeland, Engeland en Suid-Afrika wat volg. Totdat Chilie en Argentinië weer volkvreemde druifsoorte bekendstel en China die hele storie weer op sy kop draai.

So diep as wat die wetenskap strek en so ver as wat dit terugdateer, daar sal jy die eerste tekens van beskawing in ‘n glas wyn ook kry. Dalk nie die wyn soos ons dit vandag ken nie, maar met dieselfde uitgangspunt om iets lewend soos wyn op die beste manier moontlik te interpreteer.

Lissabon, Portugal. Ek was genooi om ‘n wynkompetisie te gaan beoordeel en Quinta Santana was een van die landgoedere wat ons besoek het.

Loopbaan moontlikhede met WSET Diploma

Daar is verskeie redes waarom iemand die WSET Diploma sal aanpak. Jy hoef nie noodwendig ‘n loopbaan in wyn te volg nie. Sommige mense koop groot pro-kameras omdat hulle die stokperdjie van fotografie ernstig opneem en persoonlike plesier daaruit put. Vir ander is ‘n slimfoon al wat nodig is. Dieselfde met wyn. Dit is jou keuse wat jy met die opleiding wil maak. Of dit selfverryking is en of jy ‘n ernstige loopbaan in wyn wil volg, dit maak alle deure oop.

Vir my as joernalis, bou dit my woordeksat en algemende kennis en dit verfyn my proe vermoë, maar dit stel my ook in staat om strategies te dink wanneer ek by wynprojekte betrokke raak wat handelsmerkontwikkeling en strategiese beplanning verg. Dit oorbrug verskeie rolle in die waardeketting vanaf die wingerd tot wynglas en enige kommunikasie kanale wat daarom wentel.

Volgens Cathy Marston berei WSET Diploma jou voor vir senior poste in die wynbedryf. “Dit maak letterlik elke deur vir jou oop want daar is nie nog ‘n wynkwalifikasie van sy statuur wat wêreldwyd beskikbaar is nie. Daar is te min wynmeesters (dit verwys nie na Kaapse Wynmeesters nie) om dit ‘n vereiste vir hierdie posisies te maak.”

Die opleiding berei jou voor as ‘n leier in die wynbedryf, hetsy in Suid-Afrika, China, Engeland, Amerika, Australië of waar wyn as kernbedryf gevestig is.

Werksgeleenthede sluit onder meer in:

  • algemene bestuurder van ‘n wynsakebedryf
  • hoof-wynaankoper van ‘n supermark or kettingwinkelsgroep
  • Senior bemarking en verkope
  • Senior posisies in ‘n raadgewende hoedanigheid met insig op die wereldstand van wynsake wat jou in staat stel om wyne in konteks van soortgelyke wyne rondom die wêreld te plaas.
  • Joernalistiek en skrywer
  • Digitale wynbemarking

Die volgende diploma kursus begin in Januarie 2022 en kos sowat R100 000. Dit sluit in die twee jaar kursus, Riedel-glase, studiemateriaal, 116 klas-ure, en wyne van regoor die wêreld wat ter illustrasie geproe word. Dit sluit ook eksamenfooie in, sowel as terugvoer op toetse. Studente wat aansoek doen, moes alreeds WSET Level 3 voltooi het. Betaalplanne en beurse is beskikbaar. Vir meer inligting, stuur ‘n epos na info@thewinecentre.co.za. (Hierdie is net ‘n skatting en sluit ekstra proeë en selfstudie uit)

 

 

subscribe to news
Qiunta Santana Portugal
Qiunta Santana Portugal

Chateaux Clarke
Chateaux Clarke

more news