Uit liefde vir kos en wyn

Monday, 22 February, 2021
Samarie Smith
Die nuutgevonde vryheid van ‘n 23:00-aandklok het ‘n dramatiese toename in restaurant besprekings beteken en steeds getrou aan sosiale afstand, was ons die afgelope twee weke deel van die migrasie om wynplase en restaurante op ons voorstoep te herontdek.

Wyn is die grootste lokaas vir my wanneer dit by die keuse van restaurant kom. Ek kan nie eens ‘n kookprogram op die TV kyk sonder om n glas wyn te skink en die kombinasie aan my verbeeldingswêreld oor te laat nie. Glo my, dis nie ‘n wynsnob-lering nie, maar sal die massas ooit tot inkeer kom en besef hoeveel van daai lywige braais en eenpotgeregte die wyn op die tafel katswink slaan met kitssous of ‘n swaar hand op die knoffelbotter? As die wyn nie sy spiere bult teen elkeen se voorkeure aan tafel nie, word dit eenvoudig die sondebok gemaak en nét daar gekruisig vir sy skril suur of vyandige taniene.

24 Stasiestraat

‘n Noenmaal by sjef Mynhardt Joubert se Stasiestraat kombuis in die Paarl is ‘n goeie voorbeeld van hóé ‘n groot verskil daai glas wyn kan maak. Die kombuis ontvang jou met ope arms in sy eie huis wat dit ‘n meer persoonlike ervaring maak. Hulle is nou oop van Maandae tot Vrydae vir ontbyt en middagete (08:00 tot 15:00) en Saterdae van 08:00 tot 13:00. Ons skink ‘n glas Laborie Chenin Blanc en kyk tóé eers na die spyskaart vir ‘n pasmaat.

Die aspersie-en-salm-quiche staan kop en skouers uit, ook die Turkse eiers met jogurt en pienk peperkorrels. Ons bestel sommer albei om oor en weer te proe. Aspersie word vir allerlei redes oor die kole gehaal wanneer dit by wyn kom, van die chlorofil vlakke tot organiese swaelverbindings wat wyndrinkers op hol jaag terwyl die romerigheid van ‘n sagte eiertjie die hele spul tot bedaring kan bring. Die botterige filodeeg met nét genoeg room, vinkel, feta en basiliekruid mayonnaise het die vrugtige hart van dié somerwyn selfs langer bene gegee. Sjef Mynhardt se Oosterse bief slaai met sesamolie, oestersous, sojasous, gepekelde gemmer, eiernoedels, en al daai groen en gesonde lekkertes soos komkommer spaghetti, is ‘n fees vir die oë én die smaak kliere. Ons het nie eens twee keer gedink oor die Laborie Brut Rosé as die perfekte keuse nie, kompleet met rooibessievrug en oesterskulp nuanses om by die slaai te pas.

Foto: Samarie Smith

Haute Cabriere

Franschhoek se kant toe het die hitte dig op die horison gelê, so ons het ‘n plekkie gaan soek hoog genoeg waar ons ‘n koel briesie kon bykom. Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger van Sjef Nic van Wyk en as dit só warm is, voel ‘n mens meer peuselrig as om aan ‘n groot bord kos weg te lê. Die tapas spyskaart sluit ‘n somerpas tamatieslaai in, sampioene, lendeskyf happies, ‘n hitsige kerrie om jou af te koel en nog vele meer, maar die groot verrassing was die bittersoet sjokoladekoek en roomys bedruip met ‘n speseryagtige bessiesous – perfek saam met die aardse-rooivrug kombinasie van die Pinot Noir Reserve.

The Melting Pot

In Elgin is ons verder aan die speseryneus gelei na Oak Valley se Melting Pot Restaurant. Dit was hartverskeurend om te sien hoe hierdie pragtige plaas sy kos-en-wyn-hekke onder die inperkingswolk moes toetrek, maar nou, benewens die luukse van skaduryke akkerbome en ruim grasperke, wag daar iets verrassend-uniek by hierdie restaurant.

Kranige reisigers behoort teen dié tyd al toe te gee aan landsgrenskoors wat soos sake nou staan, net met die reiskanaal op die kassie verlig kan word. Fotoalbums sal die simptome aansienlik vererger. Met nóg ‘n tapas-spyskaart het ek nie gedink daar is veel salf aan my gebrek-aan-reis-wonde te smeer nie, totdat die sjef die borde een na die ander uitgebring het. Dalk het ek nie my huiswerk gedoen om te weet waaroor die restaurant gaan nie maar wat gevolg het was ‘n reis na die sjef se gunsteling bestemmings in die Ooste. Sy besonderse aanvoeling van suur, sout, bitter, soet en umami het ook hierdie fondasie geskep waarop die wyne kon seevier.

Dít is nóg een van daardie wonderlike eienskappe van Suid-Afrikaanse wyne. Die pendulum swaai tussen Ou- en Nuwe-Wêreldse nuanses wat soos kwik deur die fynste detail van die gereg kan beweeg om daardie spesiale konneksie te vind. Ja, sommige geure sal kontrasterend wees maar waar son en salige koelte in dieselfde terroir rus, kry wyn altyd ‘n voetstuk wanneer dit by aromatiese geregte kom. Sodra jy verlore raak in die intense sitrus aroma van die vis, is daar hierdie doelbewuse hitte van die rissie wat jou laat regop sit voordat die soet vrug van die Riesling weer ‘n soort kalmte bring. Dít is die soort kos-en-wyn-ervarings wat jou smaak uitdaag en jou op ‘n nostalgiese reis in jou eie omgewing kan neem.

Die eerste gereg was vars geelstert sashimi met geroosterde kokosneut, jogurt, kruisement en ‘n hitsige gefermenteerde swartboon-sousie. Met die stewige tektsuur van die vis het die Oak Valley Fountain of Youth Sauvignon Blanc 2020 daardie einste manoevre gedoen en in beheer van al die geure en teksture gebly om sodoende steeds die laaste buiging te maak. Dit het die wyn se lemmetjie nuanses laat seevier en dit selfs ‘n effense romerige karakter gegee.

Tweede aan die beurt was die Viëtnamese varkstokkies met ‘n rysnoedelslaai. Die Nuac Cham doopsousie aan die kant het eers skaam gelyk maar dit het die dis se geure nóg ‘n paar trappies hoër geneem. Sjoe, hierdie sjef verstaan geur én die proelokaalbestuurder verstaan watter wyne die beste daarmee vertolk word. Met hierdie geur bom het die aromatiese Oak Valley Stone & Steel Riesling 2019 steeds sy man gestaan met ‘n krokante suur en soos die vyfde element die hele ervaring voltooi.

Derde aan die beurt was gebraaide hoenderrepies met ‘n miso-soy reduksie – effens skaam op die oog as jy dit met sy kleurvolle voorganger moes vergelyk. Maar wat ‘n kombinasie! Vervoer na ‘n plekkie, êrens onder ‘n tropiese son, het die Groenlandberg Chardonnay 2019 ontplof met eksotiese geure van kumkwat, geroosterde dennepitte, pynappel en geel pruim. Dan het die kombinasie van hoender wat oornag in lemmetjiesap gepekel was hierdie vertroosende dog elegante spel met die wyn betree om die wyn nog ‘n ekstratekstuur te gee.

Laaste aan die beurt was die murgsagte lamsbiryani met die Sounds of Silence Pinot Noir 2019 wat weer eens hierdie eksotiese geure en herinneringe aan die Ooste wakker maak. Weer eens maak die wyn ‘n klassieke buiging van helder bessievrug met ‘n pikante mondgevoel wat deur die rykheid van die lam ontketen word. En dan daardie effens onbeteulde aardsheid wat Pinot Noir hierdie enigma maak en dit vrye teuels gee om by iets so aromaties soos biryanie te pas.

Paul Cluver Restaruant

Nog steeds aan dié kant van die berg, het Paul Cluver ook ‘n nuwe restaurant oopgemaak wat hul familiewaardes en etos vasvang. In die hart van die Kogelberg Biosfeer met appel en peer boorde ook op hul De Rust plaas, kan ‘n mens jouself net indink waarmee die sjef hier kan wegspring. Wyne met ‘n natuurlike varsheid is aan die orde van die dag so die geregte vier die aromatiese karaktereinskappe van Sauvignon Blanc, Chardonnay, Riesling en Pinot Noir. Saam met die wyne, staan die restaurant ook op volhoubare bene en die groente en kruie word waar moontlik in die tuine van die De Rust Futura skool op die plaas gekweek. Die sjef Stacey Lee Chan staan agter die potte en is dol oor die vryheid wat sy het om ná aan die aarde te kook. Iets eenvoudig soos bokkaas het ‘n natuurlike suur wat Riesling kan tem en die nuwe ongehoute Village Chardonnay 2020 pas soos ‘n handskoen by die sappige hoendergereg. Klassieke trooskos is die uitgangspunt hier, so vars kabeljou of ‘n sampioen-pastagereg met ‘n glas Paul Cluver Estate Pinot Noir 2019 is nie te versmaai vir ‘n middel-van-die-week bederf nie. Maar onthou, jy is op ‘n werkende appelplaas so hou plek vir daai tongklaplekkerte van ‘n bros appeltertjie met ‘n glas Noble Late Harvest.

Foto: Samarie Smith

So nee, daar is geen rede om ingeklooster te voel in ‘n land waar ons so bederf is met uitstekende kos en wyn teen beskaafde pryse nie. En al is die beursies plat het almal geleer hoe om meer eenvoudig aan huis te eet, te spaar en dan uit te sien na ‘n ordentlike kuier in die Kaapse wynlande.

Foto: Samarie Smith
Foto: Samarie Smith

more news